khulumani-header-transparentkhulumani-color-logo-transparent

  • Written by  Basil David Kivedo, www.rapport.co.za
  • Published in Reconciliation
  • Read 2473 times

Sáám oorkom Worcester wonde van die Kersbom

Met die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika in 1994 het ’n jong Afrikaner-teoloog van ’n plattelandse dorpie noord van Johannesburg besef veranderinge in die nuwe land gaan teen ’n snelle pas geskied.

Dr. Deon Snyman het voorts besef Suid-Afrikaners, gemeenskapsleiers en die algemene burgery van alle kulture sal nuwe vaar­dig­hede en ’n pragmatiese benadering moet bemeester om in pas met die ritme van verandering te wees.

Sy besonderse bydrae sou hy lewer as leier van die gemeenskapsgedrewe Stigting vir Kerkgeleide Restitusie met sy basis in Kaapstad. Die stigting se kerndoelwit is die bedryf van projekte wat versoening en heling in die land bevorder. 

Snyman moes sy boodskap verder as die Kaap uitdra en het op Worcester in die Boland besluit. 

Die Worcester-bomontploffing op 24 Desember 1996 in die Shop­rite-winkelsentrum is as katalisator gebruik.

In dié ontploffing is sewe mense dood en sowat 70 beseer in die winkel en in ’n nabygeleë apteek. Al die slagoffers was swart en bruin mense. 

Ses verdagtes wat met verregse organisasies verbind is, is in hegtenis geneem, skuldig bevind en swaar vonnisse opgelê.

Die afgelope 15 jaar het die winkel nooit in die Kerstyd versierings aangebring nie.  Vanjaar is dit terug. 

Die verhaal van die Worcester- bomontploffing in 1996 sou ook dien as metafoor om alle inwoners van Worcester te herinner aan menseregtevergrype van die verlede waarvan sommige inwoners plegers en ander slagoffers was. 

Die idee was om die Worcester- gemeenskap ná dié gebeurtenis te verenig om sodoende ’n gemeenskapsgedrewe Stigting vir Restitusie te vestig. 

Die slagoffers van die bomontploffing het 20 sleutelgemeenskapsleiers van Worcester geïdentifiseer, waarna Snyman ons besoek en die konsep van sodanige stigting aan ons voorgehou het.

Voor dié samekoms was daar reeds ’n ontmoeting tussen me. Olga Macingwane, wat ernstige beserings opgedoen het in die ontploffing, asook drie lede van die Khulani-ondersteuningsgroep en een van die veroordeeldes, Stefaans Coetsee, in die Pretoriase C-Max-gevangenis. 

Coetsee was slegs 18 jaar oud toe hy die daad gepleeg het. 

Tydens die ontmoeting in November 2009 het die partye mekaar vergewe en saam gebid. Coetsee het bely dat hy die dade in opdrag van sy seniors gepleeg het, dat hy intense berou daaroor het en dat hy graag al die ander slagoffers wil ontmoet om om verskoning te vra. 

Hy wou weer ’n normale lewe lei en eendag vir sy kinders van die gebeure vertel om te help keer dat dieselfde foute herhaal word. 

Bowenal wou hy hom ook tot die gees, filosofie, etos, oogmerke en praktyk van die voorgestelde projek verbind. 

Tydens die Worcester-restitusiegroep (tans die Worcester-versoenings-en-hoopgroep) se eerste vergadering, op 23 Januarie 2010, het die mense wat Coetsee besoek het hul wedervaringe met die ander gedeel. Dit was ’n katarsis, ’n ontboeseming van emosies en gevoel wat ek nog nooit in my lewe ervaar het nie. Hulle het ons met die volgende woorde uitgedaag: 

“As ons met Stefaans Coetsee versoen kon word, kan die res van Worcester met mekaar versoen raak. Laat ons die uitdaging ernstig opneem om dit makliker vir ander te maak om te glo dat daar werklike berou oor menseregtevergrype in die verlede in Worcester was.”

Al die deelnemers het hulle tot die proses verbind en ’n komitee is aangewys om dit in te stel. Die hoofdoel van die projek is om ’n strategie vir versoening in Worcester te ontwikkel en toe te pas om uiteindelik die skeurings te heel wat deur apartheid veroorsaak is. 

Die ledetal het gegroei en ekstra stukrag aan die beweging verleen, en daar het in ’n groot mate ’n positiewe ommekeer in interpersoon­like verhoudings oor die hele spektrum heen ingetree. 

Daar is ook ’n groter mate van welwillendheid, verdraagsaamheid en begrip en ’n uitreik na mekaar.

Ons projek kry ook stukrag deur ander vredebouprosesse. So het Neil Burger, voormalige vleuel van die Westelike Provinsie, byvoorbeeld ’n reeks versoeningsdienste en gebedsessies gereël. 

Daar is talle ander (gemeenskapswerkers, aktiviste en pastore), maar te veel om op te noem. 

Mnr. Claude Schroeder, voorsitter van die Worcester-versoenings-en-hoopgroep, meen Worcester word nes elders in die land ook daagliks deur sosiale euwels geteister. 

Ons gaan egter nie in ’n hoekie sit en verslae en verslane toekyk hoe die lewensdramas om ons afspeel nie. Trouens, ons gebruik ons energie om oor grense heen hande te vat om uit die spiraal van wanhoop en moedeloosheid te kom. 

Ons maak eers met onsself vrede. 

Daarna poog ons om onderlinge vrede te bewerkstellig. Hierna word gemeenskapsaksies aangepak om ’n boodskap van hoop, versoening en ’n sin vir maatskaplike geregtigheid uit te dra. 

As vrywilligers waag ons dit om uit ons gemaksones te stap om ons vrye tyd op te offer en saam te werk in die waarmaking van God se droom vir Worcester, naamlik om in harmonie saam te leef. Ons passie en nederige pogings word nie deur dwang of politieke korrektheid gestu nie, maar is geïnspireer deur die voorbeeld van Nelson Rolihlahla Mandela.

In sy Long Walk to Freedom sê Madiba onder meer niemand is ge­bore om te haat nie, dat mense dit aanleer en dat hulle wel geleer kan word om ander lief te hê, want liefde kom natuurliker na die mens se hart as haat en nyd. 

Soos ons in die Worcester-hoop-en-versoeningsproses al hoe meer lede van ons gemeenskap mobiliseer om hul liggie te laat skyn, moedig ons ander landsburgers aan om dieselfde te doen.

Só oorkom ons die donker en bou ons saam aan ’n beter toekoms vir ons land se toekomstige generasies. 

Ons konstante wekroep en uit­nodiging is aan inwoners van dorpe oor die land heen: Raak betrokke, tree op, want die geskiedenis word nie gemaak deur generaals, presidente en konings nie, maar deur gewone, passievolle burgers wat meedoënloos saamwerk aan ’n beter toekoms, vir ons kinders en dié se kinders.

Basil David Kivedo is lid van die Worces­ter-versoenings-en-hoopgroep, asook uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit.

Khulumani Youth Forum Theatre is invited to the SEX ACTUALLY Launch & Several Workshops

Opening-of-Sex-Actually-Festival-S

In Memory of Robin Williams

Robin williams

A prayer posted by Christine Sine which she wrote while thinking about the impact Robin Williams (the actor in Good Will Hunting and many other films) whose death has been devastating for many following his suicide this week. Robin Williams took his own life in a battle with major depression. In Khulumani, we too know the terrible impact of brokenness and pain.

God we know the wounds our world can inflict,
And have felt the heartache of its brokenness.
Let us have eyes to see and ears to hear,
That pain can give birth to laughter,
That humour often hides our fears.
Let us look at sorrow and anguish and not blink.
Accepting responsibility let us become pilgrims in the ruins,
Choosing to respond with love and compassion,
To all who are hurting and in pain.

Find us on Facebook